Litrugie is ‘n gesprek wat heers tussen mense en God. Binne die erediens is dit nie net die mens wat met God praat of God wat met die mens praat nie. Ons is in ‘n wedersydse gesprek met ons Hemelse Vader. Wanneer ons dan bymekaar kom in die naam van die Here, dan doen ons dit op die beste, mees geordende wyse moontlik om te verseker dat elkeen ‘n ware ontmoeting het met ons lewende Here.
Die Aanbiddingsbediening is juis hiervoor verantwoordelik. Hier word nagedink oor al die verskillende fasette van die eredienste by al drie die preekpunte. Daar word ook fyn beplan oor die preekprogram vir die jaar en hoe die liturgiese kalender binne die eredienste toegepas kan word. Van sang tot die gebruik van die projektor val alles onder die Aanbiddingsbediening.
Die Getuienisbediening is ‘n baie groot deel van ons gemeente aangesien dit direk die doel en wese van Kerkwees aanraak. Hierdie is die omgee en uitreik been van die gemeente waar daar baie werk gedoen word in die nabye omgewing asook op die uithoeke van die wêreld! Uitreik aksies waarby ons gemeente betrokke is:
Abraham Kriel Kinderhuis (Nylstroom): Koedoeskop gemeente is deurentyd betrokke by Huis Matoppi. Kontak persoon: Lizmarie Fourie (082 309 2192)
Kwêna: Kwêna is ‘n inisiatief wat deur verskeie gemeentes ondersteun word. Dit behels ‘n mobiele tent wat elke maand op ‘n ander plek die woord van die Here bring.
Kontak gerus vir Ds Willem (083 276 5141) indien u betrokke wil wees by enige van die uitreike.
Koedoeskop Gemeenskapskerk is bevoorreg om betrokke te wees by die kinders in ons gemeente en ook saam te werk met die plaaslike laerskool. Kategeseklasse word in skooltyd elektronies aan leerders gebied. Hierdie lesse word deur ‘n bekwame span mense opgeneem en geredigeer.
Hoërskool kategese word na die erediens op Koedoeskop aangebied.
Kinderkerk word aangebied tydens die diens op Koedoeskop by ons kinderkerklokaal.
Belydenisklasse word aanlyn aangebied vir leerders wat in koshuise is of volwassenes wat ver van die kerk af woon en nie klasse by die kerk kan bywoon nie.
Die Musiekbediening is tans hoofsaaklik op Koedoeskop. By Rooiberg en Kromdraai word daar net so lekker saamgesing, alhoewel dit sonder begelyding is. Op Koedoeskop word daar weekliks op ‘n Donderdagmiddag geoefen vir die eerskomende Sondag se erediens. Elkeen wat hierby betrokke is het ‘n fyn aanvoeling vir die liturgie en die bediening van musiek daarby.
Hierdie bediening bevat ‘n groep mense wat elkeen sy of haar besondere talente om te kan musiek maak gebruik om die Here te dien en die gemeente ook daarmee by te staan. Die Musiekbediening val onder Aanbiddingsbediening.
Die Ondersteuningsbediening is die ruggraat van NG Kerk Koedoeskop se bestuur. Dit is hier waar daar na die geboue en toerusting omgesien word wat ons as gemeente gebruik om te aanbid. Dit is ook hier waar ons na die finansies van die gemeente kyk en alle ander administratiewe aspekte van die Bediening. Die Bybel herinner ons dat wanneer ons kerkhou, dit georganiseerd moet wees. Die ondersteuningsbediening help NG Kerk Koedoeskop om die beste bediening te lewer met goed versorgde personeel, terreine en finansies. Kontak persoon vir die Ondersteuningsbediening is Johan van der Walt (083 260 1128).
Die Vrouediens is een van die hoekstene in die gemeente. Dinamiese vroue wat elkeen haar eie talente gebruik tot eer van die Here om die koninkryk deur NG Kerk Koedoeskop uit te brei. Daar word gereeld bymekaar gekom om te besin oor al die take wat die vroue van die gemeente vir die jaar aangepak het, en te reflekteer op die suksesse van wat reeds verby is. Elke vrou in die bosveld gemeenskap behoort deel te wees van hierdie besondere bediening in NG Koedoeskop!
Kontak Ria van der Walt (083 227 6699)
© 2024 - Koedoeskop Gemeenskapskerk / NG Kerk |Design & Developed by Websitemaster.co.za